Wednesday, March 25, 2015

Werk Hipnose Regtig?

Een van die mees algemene vrae wat ek gevra word is of hipnose regtig werk.

Ben* het in my gemaklike stoel kom sit. Hy het my vertel hoe moeg hy is om te rook en dat hy bitter graag wil ophou met die nare gewoonte. Hy het al alles probeer, het hy gesê. Pille, wilskrag, selfs akupunktuur. Hipnose was sy laaste opsie.

Nadat ons bietjie gesels het oor sy gewoonte en hoe om dit te verander, het ek hom in die hipnotiese proses ingelei. Ek het aan hom instruksies vir ontspanning gegee en ek het gesien dat hy my suggesties een na die ander volg. Dit was nie lank nie of Ben het liggies begin snork, asof hy aan die slaap was.

Ek het egter geweet dis nie slaap nie, dis een van die mees algmene misverstande wat ons oor hipnose het. Die feit dat hy snork het maar net aangedui dat hy baie diep ontspan. Ek het aan hom 'n vraag gevra en opdrag gegee dat as hy wou hê ons moes voortgaan, dat hy sy een vinger beweeg. Vir 'n paar oomblikke het daar niks gebeur nie, en toe beweeg die vinger.

Hipnose is nie slaap nie. Dis inteendeel 'n toestand van baie skerp konsentrasie terwyl die kliënt diep ontspan.

Ek het voortgegaan met die sessie en Ben se onderbewussyn heropgelei om te glo dat hy 'n natuurlike nie-roker is. Dit het sowat veertig minute geduur om die hipnotiese deel van die sessie met hom deur te gaan en toe ek hom aan die einde uit die proses uittel, het sy oë oop gegaan en die eerste woorde wat uit sy mond gekom het was: "Ek is nou 'n natuurlike nie-roker."

Dis nou al meer as twee jaar later en ek het onlangs 'n epos van Ben gekry waarin hy aan my verduidelik het wat gebeur het nadat hy die sessie verlaat het. Hy vertel daarin hoe hy die lus vir rook heeltemal verloor het, hoe hy eintlik baie min aan sigarette dink en hoe maklik dit was om die slegte gewoonte met goeie gesonde gewoontes te vervang. Hy het my bedank vir die sessie en het intussen al verskeie mense na my toe verwys.

Kan jy gehipnotiseer word? Die meeste mense dink dat hulle nie kan nie. Hulle is baie bang dat om gehipnotiseer te word hulle as swaksinnig, naïef of dom gesien sal word, of dat hulle beheer sal verloor. Onlangse navorsing bewys egter dat die graad van hipnotiseerbaarheid direk verbind is aan intelligensie, konsentrasie en fokus. Hipnose is nie 'n alles-of-niks gedoente nie, dis 'n proses. Die meeste mense kan tot die een of ander vlak gehipnotiseer word - die enigste vraag is hoe ver.

Die hipnose self is nie werklik terapeuties nie, dis die suggesties wat tydens die proses gemaak word wat die kliënt se gedrag dramaties kan verander. Wanneer hulle die nuwe maniere van dink en doen begin inoefen, dan word die grondlsag gelê vir kragtige veranderinge in die toekoms. Ek sal byvoorbeeld aan 'n roker suggesties maak dat hy of sy heeltemal van sigarette sal vergeet, of indien hulle dit sou opsteek, dit walglik sal smaak en dat hulle 'n drang sal kry om die sigaret in twee te breek. Ek sal met hulle praat oor die nuwe alternatiewe wat hulle kan gebruik instede daarvan om te rook en sal hulle help om te verbeel hulle is in die toekeoms, 'n suksesvolle nie-roker.

Navorsing oor die afgelope twintig jaar het bewys dat hipnotiese tegnieke veilig en effektief is. En alhoewel die meeste mense hipnose met ophou rook of gewigverlies assosieer, is daar 'n oorvloed bewyse dat dit net so goed kan werk vir letterlik duisende ander kwale, probeme en kwessies. Hoofpyne kan beheer word, vrouens kan pynloos geboorte skenk, dit help met konsentrasie en studeer, verlig fobies en dien selfs as verdowingsmiddel - sonder medisyne of newe-effekte.

Al hoe meer mense begin die waarde van hierdie tegniek insien en gebruik. So as iemand vir my vra of hipnose werk, dan antwoord ek nie net met 'n luide "Ja!" omdat ek die navorsing gelees het nie, ek sê "Ja!" omdat ek dit daakliks in my praktyk sien. Ben en honderde ander mense het al baie suksesvol opgehou rook en ek kry gereeld eposse en sms boodskappe wat dit bevestig. Dan praat ek nie eers van die duisende ander wat verligting gekry het vir 'n reeks ander probleme nie.

Dink jy daaraan om hipnose te beproef om jou probleme mee uit te stryk? Maak gerus met my kontak dat ons jou oplossings kan bespreek.

Want dis 'n feit: Hipnose Werk!

*Skuilnaam

Friday, March 13, 2015

Nuwe webtuiste

Welkom by my nuwe webtuiste www.hypnosis-works.co.za. Jy gaan baie inligting op hierdie webwerf kry, laat weet gerus wat jy van die nuwe ontwerp dink.

Kom kuier gereeld op hierdie blog, ek sal een of twee keer per week nuwe inligting oplaai, asook artikels en gebeurtenisse.

Dis 'n opwindende tyd hier by Hypnosis Works! en daar is groot planne wat binnekort gerealiseer gaan word. Bly op hoogte deur so nou en dan, af en toe, 'n draai te kom maak.

Ek sien uit om meer inligting te deel en jou te leer ken en te help.